Met die inwerkingtreding van die BELA-wet vra baie Suid-Afrikaanse tuisonderwysgesinne dieselfde vraag: Moet ek nou noodwendig my kind vir tuisonderwys registreer?
Sommige ouers voel dat hulle geen ander keuse het as om artikel 51 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) na te kom nie. Ander ouers, wat sterk teen die registrasievereiste gekant is, het besluit om onder die radar te bly om vervolging te vermy.
Die werklikheid is nie ‘n eenvoudige “ja” of “nee” nie. Om ouers te help om deur hierdie nuwe regslandskap te navigeer, kan die probleme aan die hand van vyf W-vrae ondersoek word, terwyl vyf N-benaderings verskillende maniere van nakoming beskryf.
Die 5 W-vrae: Waarom registrasie problematies is
1. Wat is registrasie?
Wanneer ons ‘n geboorte of motorvoertuig registreer, is dit gewoonlik ‘n eenvoudige administratiewe proses. Registrasie vir tuisonderwys ingevolge artikel 51 funksioneer egter meer soos ‘n lisensiëringsproses.
Ouers moet aansoek doen vir staatsgoedkeuring, waarna onderwysamptenare besluit of die aansoek goedgekeur of afgekeur word – soortgelyk aan ‘n bestuurderslisensie, waar ‘n eksaminator besluit of die kandidaat slaag.
2. Wie dra die gesag?
Grondwetlik lê die primêre verantwoordelikheid om te besluit wat in die beste belang van hulle kinders is, by ouers. Artikel 51 gee egter aan staatsamptenare die bevoegdheid om ‘n ouer se tuisonderwysaansoek goed of af te keur, hoewel hulle nie noodwendig die individuele kind en sy of haar omstandighede ken nie. Dit laat belangrike regsvrae oor ouerlike regte en verantwoordelikhede ontstaan.
3. Wat sê die woorde van die wet?
Die Grondwet vereis dat onafhanklike onderwysinstellings, soos privaat skole, by die staat geregistreer moet wees. Artikel 51 pas soortgelyke registrasie- en standaardvereistes op tuisonderwys toe. Omdat ‘n gesin wat sy eie kind tuis onderrig egter nie ‘n onderwysinstelling is nie, ontstaan die vraag of dit grondwetlik geregverdig is om institusionele vereistes op individuele tuisonderwysgesinne toe te pas.
4. Waarom registreer?
Vir baie gesinne bied registrasie min direkte voordeel. Die regering se eie sosio-ekonomiese impakstudie (SEIAS) oor die BELA-wetsontwerp het geen bewyse gelewer dat registrasie die beste belang van kinders bevorder nie. Registrasie kan wel voordelig wees in bepaalde omstandighede, soos pleegsorg, aannemings of egskeidingsgeskille, maar kan in ander gevalle tot onnodige staatsinmenging lei.
5. Is daar die wil om registrasie af te dwing?
Onderwysdepartemente het in die verlede min bereidwilligheid getoon om funksionerende tuisonderwysgesinne strafregtelik te vervolg. Daarbenewens het departemente beperkte administratiewe kapasiteit om selfs bestaande aansoeke te verwerk, wat dit nog moeiliker maak om nie-nakomende gesinne op te spoor en te vervolg.
Die 5 N’e: Jou opsies vir nakoming van die wet
Elke gesin moet die risiko’s oorweeg en ‘n benadering kies wat by hulle omstandighede pas.
1. Beginselvaste nie-nakoming
Ouers wat op grond van hulle gewete beswaar maak teen verpligte registrasie, kan besluit om nie te registreer nie. Hulle argumenteer dat die staat sy regmatige grense oorskry. Hoewel hierdie benadering regsrisiko inhou, kan ‘n grondwetlike beswaar moontlik relevant wees indien ‘n ouer later op ‘n “grondige rede” vir nie-nakoming moet steun.
2. Nakoming met duidelikheid
Artikel 51 bevat vereistes oor onder meer kurrikulum en assessering wat vaag of moeilik interpreteerbaar kan wees. Ouers het die reg om vir duidelikheid te vra. Hulle kan die departement skriftelik versoek om onduidelike vereistes te verduidelik. Indien die departement nie antwoord nie, skep die ouer se gedokumenteerde poging om vas te stel wat die wet vereis, ‘n belangrike rekord van verantwoordelike optrede.
3. Voorwaardelike nakoming
Ouers kan ‘n artikel 51-aansoek indien om te registreer, maar terselfdertyd hulle regte voorbehou en beswaar maak teen vereistes wat hulle as onregmatig beskou.
Indien die departementshoof (HOD) nie binne 60 dae op die aansoek reageer nie, word die aansoek ingevolge die wet as goedgekeur beskou.
4. Alternatiewe nakoming
Waar ‘n gesin se opvoedkundige benadering wesenlik van die nasionale kurrikulum verskil, kan ouers ‘n ander wetlike roete oorweeg. In plaas van registrasie ingevolge artikel 51 kan hulle aansoek doen om vrystelling van verpligte skoolbywoning ingevolge artikel 4 van SASA. Hierdie roete is reeds in sekere alternatiewe godsdienstige en gespesialiseerde onderwysomgewings gebruik.
5. Onvoorwaardelike nakoming
Sommige ouers verkies om volledig ingevolge artikel 51 te registreer. Dit kan sinvol wees vir gesinne wat beplan dat hulle kinders later na hoofstroomskole sal terugkeer, of vir kwesbare gesinne wat formele staatserkenning van hulle opvoedkundige reëling vereis.
Ironies genoeg kan hierdie skynbaar “veiligste” opsie soms tot die meeste konflik lei wanneer amptenare vereistes stel wat verder as hulle regmatige bevoegdhede strek.
Samevatting
Daar is nie één antwoord wat vir alle gesinne geld nie.
Ouers behoort nie uit vrees op te tree nie, maar die 5 W’s en 5 N’e te gebruik om ‘n ingeligte besluit te neem oor wat werklik in die beste belang van hulle kind is.
SAHomeschoolers bied persoonlike konsultasiedienste aan om gesinne te help om ingeligte besluite te neem. Ons verskaf praktiese leiding, hulp met die formulering van appèlle, en kan op ‘n konstruktiewe wyse met onderwysowerhede onderhandel of bemiddel om geskille op te los voordat dit eskaleer. Ons is egter nie ‘n regsfonds nie en kan nie regsverteenwoordiging in howe verskaf nie. Ons doel is om ouers te help om die regsproses met groter sekerheid te navigeer, en hulle in hul opvoedkundige reis te bemagtig en te ondersteun. Deur SAHomeschoolers 